Geloofsonderrig
Afrikaanse Christen Kerk van NZ (North Shore)
Visie - Slagspreuk:
Ons jeug (kleuters, kinders & tieners) voel opgewonde om hulle self Christene te noem, en dra die vrugte van geloof in die samelewing
Ons jeug se geloof verander hulle van die binnekant af buitentoe - omdat hulle ons Heer liefhet, wil hulle soos Hy word.
Visie - ons droom:
'n Persoonlike verhouding met Jesus word as die fondament van ons jeug se lewens gelê
Geloofsonderrig leer en lei ons jeug na 'n persoonlike verhouding met God deur Jesus Christus.
'n Atmosfeer word geskep dat ons jeug by geloofsonderrig WIL wees
Ons jeug is opgewonde om kerk toe te kom, en hulle ouers saam te bring Vroeër jare was 'Sondagskool' prakties gesproke verpligtend, nou is dit diskresionêr. Ons moet dit nou aantreklik maak. Kiwi jeug sluit ook toenemend by ons geloofsonderrig aan.
Leiers van geloofsonderrig groei en blom self in die uitleef van hulle talente en gawes in hierdie bediening
Jeug onderrig leiers blom in hulle gawes en bediening - geloofsonderrig is die hoogtepunt van hulle week. Hulle betrokkenheid by geloofsonderrig dra sterk by tot hulle eie opregte geloofservaring.
Ouers en gesinne aanvaar primêr verantwoordelikheid vir geloofsonderrig, die kerk is net ondersteunend
Geloofsonderrig by die huis skep 'n goeie fondament waarop geloofsonderrig bou. Aan die anderkant moet die kerk se onderrig weer by die huis versterk word. Kerk en ouers werk saam in een span, maar ouers bly primêr verantwoordelik volgens hulle doopbelofte. Kerkbywoning is net ongeveer 'n uur per week, terwyl jeug deurlopend onderrig moet word. Dus is die gesinslewe 'n ideale situasie hiervoor.
Waardes - vir die Geloofsonderrig bediening:
Geloofsonderrig word geanker deur die opbou van Bybelkennis
Die basis van Christenskap is Bybelkennis. Dit is belangrik om die diepere boodskappe van die Skrif te verstaan, om meer Christus-gesentreerd te kan word.
Ons geloofsonderrig leiers weet wat die behoeftes van ons jeug is, sodat ons JEUGGERIG in ons geloofsonderrig kan wees
Ons jeug se behoeftes, ontwikkelingsvlak en taalkeuse word steeds in ag geneem met geloofsonderrig. Ons verstaan wat die wêreldbeskouing is van die samelewing waarin ons jeug leef. Geloofsonderrig word op 'n jeug-vriendelike vlak en wyse aangebied.
Ons jeug ervaar die liefde, omgee en saamwees van 'n Christen leefwyse
Ons jeug voel veilig, en hoor opbouende Christen boodskappe. Hulle bou 'n vriendekring met mede-Christene, wat hulle geloofsfamilie en ondersteuning in NZ word. Geloofsonderrig leiers dien as aantreklike rolmodelle vir Christenskap. Geloofsonderrig bied vir ons jeug 'n fisiese, emosionele en geestelike veilige hawe.
Geloofsonderrig vereis doelgerigte begeleiding oor die langer termyn
Geloofsonderrig is effektiefste op vroeë ouderdom (bv. voor 12 jaar) - voordat alles bevraagteken word. Nogtans word Christelike waardes oor die langer termyn gevorm, en is dit dus wenslik om 'n proses van doelgerigte begeleiding ('intentional shepherding') vroeg te begin, en oor die langer termyn te handhaaf.
Strategiese Doelstellings - hoe ons die visie implementeer
Bybelwaarhede word kreatief aangebied en ons jeug word op 'n ontdekkingsreis van die Bybel geneem Jeug leer beste as hulle dit geniet, dit moet 'fun' en stimulerend wees. Dit maak hulle ontvanklik vir die Woord. Ons besef dat ons jeug nie noodwendig op die ou styl van onderrig - "luister en stilsit" - ingestel is nie. Daarom betrek ons al hul sintuie sowel as hul natuurlike nuuskierigheid en sponteneïteit in die proses.
Aktiewe bevordering van ouerbetrokkenheid by geloofsonderrig - by die kerk en tuis
Ouers word aangemoedig en oortuig om aktief betrokke te raak by geloofsonderrig. Groter ouerbetrokkenheid beteken dat die werkslading meer eweredig oor die leiers van geloofs onderrig versprei word. Op sy beurt beteken dit weer dat opvolgbeplanning van leiers beter gedoen kan word, en dat die onderrig program minder kwesbaar is t.o.v. die verlies van enkele sleutel rolspelers. Genoeg geloofsonderrig leiers beteken ook dat almal van tyd tot tyd 'n beurt kry om eredienste by te woon en hulle eie geestelike verdieping sodoende nie afgeskeep word nie.
Beroep gemeentelede om volgens hulle gawes en talente, geloofsonderrig en die leiers van geloofsonderrig aktief te ondersteun
Ons benodig 'n deelnemende geloofsonderrig bediening - waarin gemeentelede oor 'n breë front geroepe voel om geloofsonderrig aktief te ondersteun. Hulle kan dit direk as leiers dien, maar ook indirek deur die logistieke en organisasie aktiwiteite oor te neem.
Groter betrokkenheid van tieners by Promiseland geloofsonderrig
Tieners was nog die onlangste 'kinders', en behoort die beste insig te hê in die behoeftes, voorkeure en afkeure van (Promiseland) kinders. Tieners word ook deur ons Heer geroep, en ons vertrou dat van hulle so aktief by Promiseland betrokke sal raak. Dit is dus belangrik om vir tieners te 'leer' van die noodsaaklikheid van 'n bediening in hulle lewens.
Help om ouers en leiers toe te rus om geloofsonderrig by die kerk en die huis te hanteer
Ouers benodig in baie gevalle opleiding en toerusting om geloofsonderrig te kan hanteer. Hul verstaan nie altyd werklik die implikasies van die doopbelofte nie. Bes moontlik benodig ouers 'n verdieping in die Heer, om nie oorweldig te word deur die geloofsonderrig taak nie. Ons 'Geestelike Toerusting' bediening kan help om toepaslike programme vir ouers te reël. Sodanige program sou dan hulp met gawe identifisering kon insluit.
Die geloofsonderrig kurrikulum word ontwerp in harmonie met ons gemeentevisie
Die kurrikulum word holisties ontwerp sodat daar kontinuiteit en kohesie is tussen die programme vir kleuters, kinders en tieners. Temas wat in die eredienste hanteer word, kan ook in die geloofsonderrig kurrikulum ingebou word. Die aard en karakter van die kurrikulum is in harmonie ('aligned with') met die gemeentevisie.