|
Ons moet God net vertrou...
Dis al baie lank wat ek loop en vra dat God my moet gebruik waar Hy wil....
Nou die dag, terwyl ek weer besig met my denke was, oorval die gedagte my dat ek moet geeslike berading doen- met die mense werk wat swaar kry en dan voel of hulle God verloor het. My eerste gedagte was dat ek nie sal weet hoe om te help nie. Die antwoord daarop was dat ek moet vertrou. God sal DEUR my werk om die situasies reg te hanteer.
Tipies ek, het ek begin soek na counceling diplomas... en pastoral councelling – wat ‘n gesoek in NZ!!! Uiteindelik op ‘n plek afgekom.... Baie opgewonde het ek begin navrae doen en die limitations van my visa opgesoek.
Daar is ‘n briek in my wiele gesteek. Ek mag nie studeer nie. En indien daar wel vir my ‘n studyvisa gegee word, gaan 1jaar se studie $14000 wees ipv $3000.
Ek was baie hartseer hieroor... maar my opdrag was nie om te gaan leer nie.... my opdrag was om mense te help om God weer te kry, Hom nie te verwyt vir dit wat gebeur het in hulle lewe nie en dankbaar te wees vir dit wat hulle nou het, en dat God hulle sal help - ons moet God net vertrou...
En ek het besluit om ook, God net te vertrou vir die nodige kennis en vaardighede wat nodig sal wees.
Dit is my roeping. En ek glo dat dié wat dit nodig het by my sal uitkom.
Hier het ek ‘n antwoord gekry..... VERTROU OP GOD
Wat verwag ons van die Here? Wat glo ons kan Hy vermag, en waartoe is Hy in staat? Ons glo so dikwels dat ons God so onmagtig is. Glo jy in wonderwerke? Glo jy dat God nog die bonatuurlike kan doen? Meer as wat jy kan bid of dink? Is dit nie so dat ons vir God dikwels verklein tot ons vlak, en selfs sovêr gaan om onsself en ons vermoëns bo Hom stel? Ek weet nie wat jou huidige omstandighede is nie, dalk gaan dit op die oomblik swaar met jou, en dalk is die lig in die tonnel maar flouerig. Maar is dit nie dalk omdat ons nie regtig ten volle op die Here vertrou nie? Natuurlik kom daar swaar tye in ons lewens en natuurlik is alles nie altyd maanskyn en rose nie, en dalk is jy tans in 'n drukgang in jou lewe. Dan is dit moeilik om God te vertrou vir beter dae en om regtig geduldig te wees. Maar waartoe dink ons is die Here regtig in staat? 2 Kon 4 : 1 – 7
Sy begin deur vir Elisa te vertel dat sy swaar kry as gevolg van omstandighede. Haar man is dood en daar is slegte omstandighede. Net soos wat ons vandag ervaar. Mense verloor hulle werk, of hulle gesondheid, of 'n lewensmaat en dit gaan sleg. Dit gebeur ook met goeie eerbare mense. Vers 1 sê, “en u weet self dat u dienaar die HERE gevrees het”. Slegte goed gebeur met goeie mense. Dan sê Elisa "Wat kan ek vir jou doen? Gee my te kenne wat jy in die huis het “ En sy sê "U dienares het glad niks in die huis nie, behalwe ‘n flessie met olie”.
Ek wil hierdie bietjie olie vergelyk met die vermoëns wat die Here vir ons gee. Wat het ons wat ons kan gebruik in swaar tye. Sy kon sê "Ek het niks nie". Maar die Here sien dikwels meer in ons "niks" as wat ons kan dink. Ons sien onsself dikwels so nutteloos voor die Here, of dalk is dit ook maar net ons verskoning om te sê, ek is nutteloos. Ek kan nie, ek het niks, en dan gebeur daar ook niks.
Al sê die Here Hy sal vir ons sorg, verwag Hy darem ook van ons alles wat ons kan doen of gee. Ons kan nie net passief raak en terugsit nie. Die weduwee bied dit aan wat sy het. Wat bied ons aan?
En hier kom die wonderwerk. Elisa beveel haar om soveel “leë kanne” as moontlik bymekaar te kry. En die toets vir my en jou is, hoeveel “leë kanne” sou ons bring? Want jy sien, toe die olie begin loop, toe is dit meer as wat die kanne kan hou. Vir hoeveel seën vertrou ons regtig die Here? Moet asseblief nie seën meet aan die materiële nie, want dis nie waarna hier verwys word nie. Want jy sien, toe hierdie vrou se kanne vol was, moes dit steeds eers al die skuld betaal, en dit wat oorbly, het haar penarie verlig. Hulle kon toe daarvan leef. "van die orige kan jy en jou seuns dan lewe ". Daar word nie ge-insinueer dat daarmee saam weelde gekom het nie. Maar wel genoeg.
Maar tog was die toets vir hoeveel sy die Here vertrou het. Ek is seker dat 'n baie klein kannetjie baie groter as 'n flessie was. Maar haar vertroue het gemaak dat sy baie kanne gaan leen het. Meer as wat logies is en sin maak. Ek twyfel of haar bedoeling daarmee enigsins met gulsigheid gepaard gegaan het. Sy het vir die Here vir genoeg vertrou. Ons glo net nie altyd dat die Here groter as ons omstandighede is nie. Ons gebrek aan geloof maak dat ons soms meer seën verbeur as wat ons kry. Want saam met dit gaan dankbaarheid. Dankbaarheid maak dat ons die flessie raaksien en dit mobiliseer ons gewoonlik.
Daar kom swaar tye, niemand van ons is daarvan gevrywaar nie. Die reën sal weer kom, die swaar sal verbygaan. Die vraag is nie of dit weer sal beter gaan nie, want dit sal. Die vraag is, kan ons genoeg vertroue in die Here stel? As jy dalk tans in hierdie drukgang is, kan woorde van mense maar leeg wees. Maar die Here se "track record" staan vas. Hy bly 'n getroue God. Hy kom Sy beloftes na.
Kom ons doen ALLES wat ons kan en moet doen, span al jou vermoëns in in swaar tye, en daar waar jy nie meer kan nie, vertrou op die Here.
|