Donderdag,09-September -2010
     
Tuisblad Wie is ons Getuienisse “Maak sin uit daardie 3 ure.”
“Maak sin uit daardie 3 ure”
 
En toe onthou ek: Jesus het 3 ure lank met Satan geworstel: “…teen ongeveer 12 uur het duisternis oor die hele land toegesak tot 3 uur toe…” (Lukas 23:44) Nou begin ek vir die eerste keer begrip kry oor hoe lank daardie 3 ure duisternis vir Jesus moes gewees het. Want daardie 3 ure was langer as lewenslank vir my…daardie 3 ure het Satan om my bed geloop en lippe aflek!...
 
Tot my Heilige Here Jesus self het hierdie 3 ure van duisternis beleef as meer as wat die vlees en gees kan verduur: Mattheus 27:46 “Teen 3 uur het Jesus baie hard uitgeskreeu: ‘ My God, my God, waarom het u my verlaat?’” 
 
En vir dae, weke, maande (jare?) het ek elke oggend ongeveer 3 uur regop in my bed geruk en geskreeu: “My God, my God, waarom het u my vir daardie 3 ure verlaat?” …Stompsinnige mens wat ek is, het ek vir 3 jaar net gedink: “My God het my verlaat!” Eers nou het ek vir ‘n stonde verpoos en besef: “Drie ure. Dit was net 3 ure!”
 
Maar het God ons werklik verlaat in die tyd, of het hy net Sy werk as Silwersmid gedoen? Was selfs my Heilige Here Jesus se belewenis van God vir daardie 3 ure subjektief en menslik? Is ek dalk regtig so belangrik vir God, dat Hy my gekies het om deur 3 ure van helse duisternis te gaan, sodat Hy my soos silwer kon louter?

“Maak sin uit daardie 3 ure.”

Hoewel dit ‘n versoek, ‘n voorstel was, is dit asof die 6 woorde nou binne my hamer, my oproep, vir my skree: “MAAK SIN UIT DAARDIE 3 URE!”

Selfs vir my Heilige Here Jesus het dit ook nie by die 3 ure opgehou nie: “Die Seun van die mens moet oorgelewer word in die hande van sondige mense, gekruisig word en op die derde dag weer opstaan” (Lukas 24:7). Drie dae in die graf…Ek het al so dikwels die 3 dae waarvan ons net dit weet – dat dit drie dae was – bepeins: Watse journey het my Heilige Here Jesus in die 3 dae nie deurgegaan nie? Was my 3 jaar van struggle met daardie 3 ure selfs net ‘n druppel in die emmer van Sy journey?
 
Ek begin my nou daaraan te troos, dat my Heilige Here Jesus 3 dae in die graf was. So die 3 jaar wat ek voel of ek in die graf is, is dalk ok met Hom. (Ek voel al so skuldig daaroor!)
 
Maar dan kom kom die aankondiging soos ‘n elektriese skokgolf: “Waarom soek jy die lewende tussen die lyke? Hy is nie meer hier nie, maar is opgewek!” Lukas 24:5,6. En ek besef opnuut: My Heilige Here Jesus het opgestaan! Hy het waarlik opgestaan! En vir die eerste keer besef ek, maar ek kan mos ook opstaan! Ek hoef nie langer tussen hierdie grafte van 3 jaar gelede rond te dwaal nie. My God wat vir 3 ure Godverlaat gevoel het, het my toe nooit verlaat nie.

Ok, fine! Nou besef ek Hy het my nooit verlaat nie. Dit verleen nog steeds nie sin aan die 3 ure nie…

Hoekom moes my Heilige Here Jesus  vir 3 ure deur hel gaan? Outomaties kom Johannes 3:16 by my op:
“Want so lief het God die wereld gehad, dat Hy Sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die Ewige Lewe sal he”

So eenvoudig soos dit. Jesus het dit vir MY gedoen.
Maar my 3 ure? Ek is nie God nie, ek het nie nodig om ter wille van iemand anders deur 3 helse ure van hel te gaan nie? … Of het ek?
Kom ek vra myself eers dit af: Wat sou gebeur het as my Heilige Here Jesus NIE deur die 3 ure gegaan het nie? Algehele uitwissing van die mensdom. Geen hoop na die dood. Net niks. Geen ewige lewe nie. Geen hoop op versoening nie. Oorwinning vir Satan.
 En my 3 ure? Wat sou gebeur het as daardie 3 ure nooit gebeur het nie? Of wat het gebeur as gevolg van daardie 3 ure wat andersins nie sou gebeur het nie? Iets wat moes gebeur? Ter wille van myself, of onsself?
“Maak sin uit daardie 3 ure”

Here, help my! Is ek ooit veronderstel om sin te maak hieruit? Tog onthou ek U belofte lank gelede, dat ek vooruitbestem is. U het my geken nog voor ek in die moederskoot was. (Ironies, mense se hulle maak kinders, tog het U my al geken nog voor hulle eers besef het hulle kan my maak!) Raak ek nie dalk te filosofies hieroor nie? “Maak sin uit daardie 3 ure”

Here, nog nooit in my lewe het enigiets my lewe so ingrypend verander nie! En dit hou nie op nie! Hier sit ek – ‘n immigrant! ‘n Vreemdeling in ‘n vreemde land! En ek moet dit myne maak – ek WIL dit myne maak!

Is dit dalk die antwoord? Moes daardie 3 ure juis gebeur om my – ons – te noop om ons kinders te neem en te vlug na ‘n veiliger land? Was daardie 3 ure dalk al wat my, stoere patriot, so kon ruk, my fondasies genoeg kon skud dat ek myself sou verplant? Is dit juis U wil dat ek, my man en my kinders hierheen moes kom?

30 jaar het my wortels dieper in Afrika-bodem vasgegroei. Is dit waarom so ‘n aardskuddende gebeurtenis nodig was om my – ons – te verplant?

Toe ek ‘n paar minute gelede hier langs die see begin skryf het, het dit hard gereen. Terwyl ek die laaste sin van die vorige paragraaf geskryf het, het die son skielik deurgebreek en groen-blou oor die see se  grys geverf Die see, wat ek so lief het! Ek wou mos altyd by die see bly. En ek het al self gese die 3 jaar wat ek in Richardsbaai by die see gebly het, het my voorberei vir die Kiwis se manier van doen en die lewe by die see.

Ek glo mos nog altyd dat U my nie erens heen sal stuur, sonder dat U eers die begeerte in my hart kom le het om te gaan nie. (Ja, ek is darem nie SO rebels soos Jona nie!) Of dalk was ek juis soos Jona – te bang en was daardie 3 ure en die opvolgende 3 jaar, ekwivalent aan Jona se 3 dae en 3 nagte in die vis se donker maag?
 
Wel, Here, as die antwoord so eenvoudig is, hier is ek dan:
 
Gelouter deur die Silwersmid,
Gebrei deur die Pottebakker,
Gestuur deur my Heer en Meester.

Ok, Here, hier is ek dan:
Hier staan ek met my hande oop voor U,
in aanbidding, in afwagting,
hunkerend om U roeping vir my lewe te vervul,
smagtend om uit te reik na ander,
steeds soekend na U wil,
steeds immer bewus van my swakke, swakke mens!
sodat U krag in my swakheid volbring kan word.

Ja, Amen, ja, Here Jesus.
Hier stap ek dan nou, vandag, na vore en ek se:
Hier is ek, Here! Hier is ek!

Ek le af wat agter is en strek my uit na wat voor is.
Met my hand in U hand, my oe gerig op U, my hande diensbaar vir U goeie werk.
Neem my lewe, laat dit, Heer, U gewy wees meer en meer!
Laat my hart gedurig juig en van dankbaarheid getuig!

Neem my hande, maak hul sterk –  diensbaar vir U goeie werk.
Neem my voete, skoei hul, Heer, met bereidheid tot U eer.

Neem my stem en laat my sing –  aan U, Here, hulde bring!
Laat my mond die boodskap dra: Hul sal vind wat na U vra!

Neem my goud en silwer, Heer –  niks noem ek my eie meer!
Al my kennis en verstand  stel ek in U Vaderhand.

Maak my hart vir u tot troon, deur U Gees wat in my woon.
Rig my wil, gevoel en daad, altyd na U wyse raad!
 

Web Besoekers

Besoekers sedert Julie 2007!
mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag152
mod_vvisit_counterGister171
mod_vvisit_counterHierdie Week492

Google Translate

We have 45 guests online

Waar is ons?

Erediens Sondae om 09:30
40 Bronzewing Terrace
Unsworth Heights
Auckland
Kopiereg © 2010 ACK North Shore. Alle Regte Voorbehou