Donderdag,09-September -2010
     
Tuisblad Wie is ons
Unieke Uitdagings
 
North Shore gemeente in Auckland is tans een van 8 Afrikaanse gemeentes van die Afrikaanse Christen Kerk van New Zealand. Ons gemeente het sy eie unieke uitdagings rondom ’n verskeidenheid van dinge wat ’n spesiale benadering vereis.
 
Ons is ’n immigrante-gemeente wat saamgestel word uit persone van  al die moontlike dele uit Suid-Afrika. Uiteenlopende redes het aanleiding gegee vir mense om ’n verskuiwing te maak. ’n Landsverhuising is baie meer ingrypend as om jou “huis” op te gee en jou vriende te groet. Immigrante moes baie dinge agterlaat en deur groot verliese werk om hier te wees. Die rouproses begin eintlik eers nadat hulle in hul nuwe tuiste aangekom het. Verlange na familie, vriende, die bekende, weersomstandighede, werk, kultuur ens. is faktore wat ’n duidelike rol speel.

Verandering is nie maklik nie. Dit plaas groot druk op huwelike en gesinne ondervind dat die aanpassing van kinders ’n uitdaging is. Groot finansiële uitgawes is aangegaan om hier te wees en dit verg ’n aanpassing in lewenstyl en kwaliteit van lewe. Die spanning van emigrasie, waar jy aanvanklik sonder `n bekende ondersteuningstelsel van familie, vriende en die kerk moet klaarkom, stel hoë emosionele en fisiese eise. Dit is hier waar die gemeente ’n belangrike pastorale rol speel om lidmate met liefde en begrip te ondersteun. Hierin speel veral die gasvryheidsbediening ’n dinamiese rol om nuwe aankomelinge met warmte en aanvaarding te verwelkom en bewus te maak van die talle bedieninge waarby hulle kan inskakel. 

Daar is ook verskille tussen die behoeftes en belange van diegene wat pas geïmigreer het en diegene wie al ’n geuimte tyd in New Zealand bly. ’n Behoefte bestaan dat die gemeente die christelike waardes sal ondersteun en lidmate bly toerus om hul weerbaar te maak teen die aanslae van die lewe. Groepsdruk, dwelmmisbruik, verbrokkelende verhoudings, swak waardes en norme is realiteite om rekening mee te hou.

Ons gemeente is saamgestel uit mense van verskillende kerklike agtergronde en verteenwoordig ’n breë geestelike spektrum. ’n Balans moet dus gevind word sodat daar erkenning gegee kan word aan verskillende generasies en elkeen se unieke styl van aanbidding en belewing van God. Veral is daar die uitdaging om na buite die grense van die gemeente uit te reik en so ons harte en hande oop te maak vir die gemeenskap waarin ons leef en werk. 

Ons lidmate woon oor ’n geografies uitgestrekte gebied van die Aucklandse North Shore. Die bekende ‘Harbour bridge’ vorm ’n natuurlike grens met die middestad van Auckland. ’n Jonger ouderdomsgroep is verteenwoordigend van die gemeente met minder  pensioenarisse en afgetredenes. Van ons Seniors woon saam met hul kinders, terwyl ander ’n eie tuiste het. Skole is oor die algemeen gerieflik verspreid en maklik bereikbaar vanaf die verskillende woonareas.

Ons maak gebruik van die kerkgebou van die Sewedagse Adventiste kerk om eredienste weekliks te hou. Dis ’n gerieflike gebou met goeie fasiliteite waar ons geloofsonderrig aan kleuters, kinders en tieners kan gee. ’n Heerlike saamkuier word gewoonlik na die erediens oor ’n koppie koffie/tee gedoen!

Die gemeente stel met sy samestelling en geografie groot uitdagings aan die bestuur daarvan. ’n Gemeenteraad, wat leiers van verskillende bedieninge bevat, asook lidmate wat met hul talente, gawes en inspirasies geroepe voel en dien, word as bestuursmodel gebruik. Hierdie bedieningsmodel gee aan elke gemeentelid die geleentheid om sy/haar gawes uit te leef en diensbaar in die koninkryk te wees. Dis elke lidmaat se taak om die gemeente met die Here se genade te “laat werk”.

Daarom wil ons saam die uitdaging aanvaar om elkeen by te dra tot ons geloofsfamilie se doelstellings en saam bou aan die uitlewing van ons drome.

ONS GELOOFSFAMILIE IS JUBELENDE DRAERS VAN JESUS SE LIEFDE EN LIG
 

Web Besoekers

Besoekers sedert Julie 2007!
mod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_countermod_vvisit_counter
mod_vvisit_counterVandag152
mod_vvisit_counterGister171
mod_vvisit_counterHierdie Week492

Google Translate

We have 43 guests online

Waar is ons?

Erediens Sondae om 09:30
40 Bronzewing Terrace
Unsworth Heights
Auckland
Kopiereg © 2010 ACK North Shore. Alle Regte Voorbehou