|
Noordbriesie Vrydag 30 Julie 2010
Liewe Vriende,

Ek het verlede week soos 'n tipiese koshuisbrak van skooldae gevoel. Dit was lekker! Ek onthou daai dae toe jy lank uitgesien het na 'n tydtjie huistoe en jy nie meer kon wag nie. So was dit ook toe ons afnaweek verlede Vrydag aangebreek het. Ja, dit was baie lekker om rustig te kon wees en op ander dinge te fokus vir 'n slag.
VISIE
Die een gedagte waarvan ek min ontvlug, is die inhoud van ons Geloofsfamilie se visie. 'n Gemeente kan eenvoudig nie sonder 'n droom leef nie, anders bestaan jy bloot en gaan van een week na die volgende sonder 'n behoorlike plan. Hoe goed is jy bekend met ons Gemeente se visie? Graag deel ek die volledige visie en vra jou aandag vir 'n oomblik om net weer daardeur met jou oë te blaai.
"Ons gemeente se Roeping in hierdie land waarheen die Here ons gelei het, is om die mees liefdevolle en uitreikende Christelike tuiste in New Zealand te wees vir gemeentelede, hulle familielede en vriende, asook vir soekers in ons gemeenskap. Ons dien en loof God-Drie-Enig jubelend, gelei deur Sy Woord, soos vervat in die Bybel, en onder leiding van die Heilige Gees.
-
Ek bely Jesus Christus as my persoonlike Saligmaker, en word meer en meer soos Hy, sodat ek reg sal wees wanneer Hy weer kom.
-
Ek strewe na opregte geloofservaring en gee erkenning aan verskillende generasies en elkeen se unieke styl van aanbidding en belewing van God
-
Ek wil graag geestelik groei en ontwikkel, en toegerus word vir diensbaarheid en dissipelskap, volgens Jesus se voorbeeld van leier wat dien.
-
Ek reik met my hart en hande uit na elkeen in ons geloofsfamilie en na my medemens in die gemeenskap, met warmte, liefde en aanvaarding.
-
Ek onderneem om aktief by te dra tot ons geloofsfamilie se doelstellings, volgens my talente, gawes en inspirasie, en bou saam aan die uitlewing van ons drome.
-
Ek beoefen en ondersteun te alle tye oop, deursigtige en deelnemende kommunikasie"
-
Ons geloofsfamilie is jubelende draers van Jesus se liefde en lig
RUBIES GEESTELIKE BYEENKOMS
Die dames se spesiale oggend het byna aangebreek en dis reeds môre, Saterdag 31 Julie, 08:30-12:30 by Longbay Restaurant. Alke Botha is die gasspreker en sy sal praat oor die onderwerp, "Herlaai jou batterye". Die oggend sluit ook 'n Breakfast Buffet met 'n heerlike spyskaart in teen $25 p/p. As jy nog 'n besluit daaroor moet neem, maak dit vinnig omdat die belangstelling baie goed is. Ons vertrou dat dit 'n hoogtepunt vir die dames sal wees!
MANNEKAMP
Die belangstelling lyk baie positief en ons is bly oor elke man wat reeds ingeskryf het. Inskrywings is oop en die kamp word die naweek van 13-15 Augustus in Whangaparaoa gehou. Kampgeld beloop $80 vir die naweek wat die kos insluit. As jy graag wil gaan, neem die besluit en skyf in. Jy sal nie spyt wees oor jou besluit nie. Ons sien baie daarna uit om as mans tyd saam te spandeer en mekaar beter te leer ken - veral dat ons geestelike inspirasie daaruit kan put.
STUDIE
Op persoonlike noot wil ek noem dat ek twee weke gelede weer student geword het en dit beteken dat ek met boeke, 'n potlood, pen en uitveër die nuwe uitdaging gaan aanpak. Ek het ingeskryf vir 'n Counselling diploma wat oor 'n drie jaar periode strek en sien baie uit na die groei in my persoonlike ontwikkeling. Dis met dank teenoor die Gemeenteraad dat ek hierdie geleentheid nou kan aangryp.
REALITEIT
Die werklikheid van 'n immigrante gemeente, soos ons s'n, is dat daar voortdurend die 'gewone' dinge soos dood, verliese, hartseer, spanninge ens. gebeur. MAAR tog is dit nie 'gewoon' nie, omdat die afstand tussen NZ en SA so ontsettend ver en verwyderd is. Baie van die genoemde dinge het met familie en vriende te doen wat ver oor die afstand versprei is. Daar is byna nie 'n tyd in die jaar waar daar nie een van ons lidmate terug SA toe is om ondersteuning te bied of te gaan in tye van 'n krisis nie. Kom ons dink aan mekaar in ons gebede en bid dat die Here se troos en bystand met ons elkeen en mekaar sal wees.
PULSE
'n Tydjie gelede is genoem dat die Tienergroep (PULSE - year 8-10) 'n plek soek om gereeld op Vrydagaande byeen te kom. Ons was gelukkig om die Browns Bay Community Centre te kon kry. Ons wil graag sien dat tieners van hierdie ouderdomsgroep meer gereeld byeenkom en nie net op Sondae tydens die Tienerdiens nie. Eerskomende Vrydagaand, 6 Aug, is die eerste byeenkoms by die Centre. Die gedagte is om dit twee weekliks te doen en is sterk deur die ouers gesteun.
WAT GEBEUR SONDAG?
Die tema van die boodskappe van die berg is nog nie klaar nie. Die tema "Waar lê jou hart?" is iets om oor diep na te dink. Mense het hul harte iewers verloor?
Die seuntjie van Chris en Leigh-Ann Robinson word gedoop.
Kom ons maak moeite om by die erediens uit te kom, want dis hier waar die Here verheerlik kan word. En Hy verdien om geëer te word! Dis tog oor Hom oor Wie dit gaan. Sien jou graag daar....
Met liefde en mooiste wense!
Danie
|