|
Roeping
Roeping sal ook omskryf kan word met woorde soos: “kreet, hard skreeu, iemand na jou laat kom of jou posisie verander” ens. Ons herinner ons daaraan hoe God telkens mense geroep het as Hy bloot gesê het: “Volg My!” (Mt 9:9b) Ook herinner dit ons hoe Jesus in 1 Petr 2: 9-10 sê dat ons sy Geloofsgemeenskap (-familie) is; sy koninklike priesterdom; ’n nasie wat vir Hom afgesonder is asook sy eiendom. “Hy het ons uit die donker van ons sondes geroep om na die helder lig te kom waar Hy is”. Ja, want voorheen was ons soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense!
Alles natuurlik met die genadige roeping van God te doen!
Roeping het dus te make met ’n roep vanuit ons donkerte - vir die koninkryk van God – saam met ander gelowiges – om lig en liefde na die soekende wêreld uit te dra.
Die ACK North Shore wil graag sensitief wees vir God se roeping. Roeping is in ons Credo opgeneem aangesien ons erkenning wil gee aan die Heilige Gees se roeping en bewusmaking in ons lewe. God roep ons deur die Heilige Gees se inspirasie om diens te lewer. En roeping begin op ons knieë en stil word voor God in afwagting om te vra: WAAR KAN EK DIEN EN WAT KAN EK DOEN?
Roeping het met navolging van Jesus, as Leier wat dien, te doen. ’n Geroepene is iemand wat leer hoe om die lewe van sy Leermeester te leef. En dan, met sy/haar lewe, ander te leer om te leef soos Jesus leef. Dis dan wanneer die ‘kerk’ die wêreld inbeweeg en ’n verskil begin maak in die samelewing.
Op praktiese vlak gee ons graag aan elkeen in ons gemeente die geleentheid om aan te dui waar hy/sy graag hul roeping en bedieningskeuse wil uitleef. Persone kan aandui waarvoor hul geroepe voel om hul talente, gawes en inpirasies aan te wend:
Daar bestaan die keuse of jy lid wil wees van ’n bediening se bestuurspan, of ’n aktiewe deelnemer binne ’n spesifieke bediening.
So word elkeen dus genooi om tyd met die Here deur te bring en te bid vir helderheid oor jou roeping tot diensbaarheid en betrokkenheid in die gemeente en gemeenskap.
|